Ugab Rhino Base Camp

As jy vroegmiddag van die see af weggedraai het en al wat die bordjie sê is D2303 … dan weet jy daar gaan nie baie verkeer op die pad wees nie. Jy skakel die radio af, al sing Neil Diamond ook hoe mooi aan “I’ve been this way before” .  Maak sommer eie-tyd die wintertjie ook dood en draai die ruite af … hoe anders gaan jy die stowwerige hitte proe?

Heelwat stof later kies jy tussen die klipkoppe koers op ‘n stadige tweespoorpaadjie. Dan skielik maak die koppe voor jou oop en die Ugab krul soos ‘n lui groenslang dwars voor jou. Daar is riethuis langs die pad met ‘n vriendelike oppasser wat sê jy mag maar hier oorstaan as jy wil.

“Craftshop” en “Info Centre” klink na beskawing, maar“Beware of Eleplants and Lions” weerspreek dit. Jy lees dit maar so tong-in-die-kies met ‘n brawe glimlag en kies vir jou ‘n mooi boom, binne ‘n windskerm. Wanneer jy die droë (gelukkig) olifantmis moet wegkrap om plek te maak vir jou tentjie, kyk jy rond en is jou glimlag nie meer so braaf nie. Wonder jy oor die klipstapels hoog op die koppe, sou die mense daar vertoef het terwyl die olifante hier verby gewei het?

Wanneer die rook van onder die stort se drom meng met jou hardekoolvuur s’n, skuif jy die olifant-gedagtes op die agterste brander en kry moed uit Doornrivier se bottel wit muskadel. ‘n Lekker vet staanrib en goeie geselsskap maak die aand kort en die slaap vredig.

Môre-vroeg as die mistigheid nog koel in die rivier hang en die nuwe son teken lang skadu’s op die sand, dan is jy bly jy het nie oornag soos die goggatjie leeu-kos geword nie. … en die bacon-reuk op die buurman se breakfast-rook maak die oggend nog mooier.

Dalk moet ek langer oorstaan …?

2 Responses to “Ugab Rhino Base Camp”

Author's gravatar

Lieflik! Hoe het jy alles een kleur gekry? Ek kon dit nog nie eens regkry nie.

Author's gravatar

Wil kyk of ek kommentaar kan pos sonder om in te log.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui